top of page

Ek herhaal jou

Versamelbundel saamgestel deur Zalman S. Davis

Cover of Ek herhaal jou, the Ingrid Jonker: L’Art Poétique 2024 poetry anthology

Eloffstraat

An-Mari Basson

Bladsy 24 · Volledige gedig


In daai huis in Eloffstraat
met die baksteen mure
en die kanferfoelie teen die draad
was dinge eenvoudiger
al was daar minder
was daar altyd genoeg
daar in Doringland lê ons tydkapsule begrawe
in ’n oranje hart
is die rooi karretjie
en ’n paar ander ditjies weggebêre
vir die kinders wat ná ons
daar gaan geelperskes eet
en oorlog in die modder voer
en paddas met koplampe vang
en in suurlemoenbome gaan vassit
en Goosebumps op die stoepmuur lees


by daai huis in Eloffstraat
was daar minder
maar die hemel weet daar was liefde.



Die vlakte duskant Hebron

Bruno Andries

Bladsy 33 · Volledige gedig


ʼn Onskuldige kind kyk die nuus om sewe en
sê
wow mamma, kyk hoe mooi lyk die vuurwerk.
Sleutelbordsoldate skree heen en weer:
Sioniste!
Van die ander kant weergalm dit:
terroriste!
Die Cohens vier Shavuot.
Die Abdullahs vier Eid al-Fitr.
Vinkel en koljander
baklei teen elkander.
Tussen die ruïnes van sinagoges en moskeë
huil klein Ezra en sy maatjie Asif
omdat hulle nie buite mag gaan speel nie.
Vinkel en koljander
die een huil nes die ander.

bottom of page